Onskuldige oe in ‘n wereld vol pornografie

August 2, 2019 Addiction 0

Onskuldige oë in ‘n wêreld vol pornografie – Anja van den Berg

Shocked lady looking at a phone

Portrait of a shocked young girl holding mobile phone isolated over white background

Dis nie meer ‘n kwessie van óf nie, maar wanneer, se dr. Gail Dines, ‘n professor in sosiologie en vrouestudies aan die Wheelock College in Boston, Amerika, wat in die studie van pornografie spesialiseer.  Kinders so jonk as agt word aan eksplisiete seksuele materiaal blootgestel.  Die gemiddelde ouderdom waarop kinders deur pornografie gekonfronteer  word, is 12. Die “goeie ou dae” van tydskrifte in ‘n plastiekomhulsel agter die skoolpawiljoen deurkyk, is verby. Die kuberruim bring seks reguit na jou kind se rekenaarskerm, slimfoon en tabletrekenaar. Sterretjies en bikini-broekies op strategies plekke het soos dodo’s uitgesterf.  “Harde” pornografie is die nuwe normaal en die internet maak dit toeganklik, anoniem en verniet.

Playboy vergete

Dines se akademiese werk en hoofstroomboeke word hoog geag en sy is een  van die wêreld se toonaangewende kenners op die gebied. “Wat gebeur met kinders wat grootword in ‘n wêreld waar vroue as hiperseksueel en pornografies uitgebeeld word?” sê sy in ‘n toespraak vir TED, ‘n media-organisasie wat toesprake oor aktuele kwessies aanlyn publiseer.  Dines neem die gehoor klik vir klik deur n tipiese 12-jarige se blootstelling aan aanlyn pornografie. “Raak ontslae van die idee van Playboy, Penthouse en selfs Hustlers. Dit was die goeie ou dae van pornografie. Ek sou nooit kon dink dat ek vandag hier sou staan, terugkyk en se dat hierdie materiaal eintlik mak was nie. Die internet het dit (seksueel eksplisiete materiaal) op sy kop gekeer.” Met werklike webtuises as voorbeeld verskaf sy ‘n paar moeilik verteerbare feite. Om deur die warboel van seksuele inhoud te kan veur raak die kompetisie vir oë-op-skerm-tyd al hoe groter. Pornografievervaardigers raak al hoe uitdagender en hoofstroommateriaal word soos ‘n spesiale aanbod by ‘n restaurant opgedis.  Die idee dat aggresiewe en neerhalende seksuele dade die norm is, word in die kyker se keel afgedruk.

Dines beklemtoon hierdie inhoud is die soort waarmee kinders gekonfronteer word. Sonder ‘n kredietkaart . “Wanneer die gemiddelde12-jarige die eerste keer die woord ‘pornografie’ google, waarna dink jy soek hy? Borste? Mense wat seks het? Dink jy hy dink eens aan aggressiewe, orale seks? Natuurlik nie. Maar dit is wat hy kry. Die  pornografievervaardigers sê vir hom: ‘As jy ‘n man wil wees, is hierdie jou toegangspunt tot ware manlikheid.’ En in daardie seun se psige begin ‘n giftige mengsel brou: Hy’s seksueel opgewerk, maar hy’s ook skaam, bang en kwaad, en hy voel enorme skaamte vir die feit dat hy seksueel opgewerk is oor wat hy sien. En niemand sê vir hom: ‘Hierdie is nie wie jy is nie’. Omdat hy geen verwysing na werklike seksuele kontak tussen volwassenes het nie, het hy ook geen manier om dit wat hy sien aan die werklikheid te meet nie, meen Dines

Die nuwe ‘normaal’

Internasionale en plaaslike navorsing steun Dines se bevindings. Ana Bridges, ‘n kliniese sielkundige aan die Universiteit van Rhode Island, Amerika, is ‘n spesialis in navorsing oor seksualiteit en romantiese verhoudings. In 2010 het sy ‘n studie gelei wat die gewildste aanlyn pornografie video’s analiseer. Uit die 304 tonele waardeur Bridges en haar span gewerk het, het 88% fisieke aggressie (klap, slaan en wurg) weerspieël. Meer as 48% was verbaal aggressief en vernederend. Mans is byna deurgaans as die aggressor uitgebeeld, terwyl vroue die rol van die seksobjekte gespeel het. Seksuele dade is nie beperk tot “tradisionele” omgang nie en Bridges-hulle het nabyskote van aggressiewe orale en anale seks as ‘n kenmerk van aanlyn pornografie uitgelig. ‘n Breedvoerige en oorsigtelike verslag, gegrond op navoring van 2005 tot 2012 en waarin ‘n groot verskeidenheid globale studies hersien word, hanteer die kwessie in terme van seksuele aggressie, gedrag en oortuigings. Die kollig word op die blootstelling aan pornografie geplaas, die effek op self- en liggamsbeeld, sosiale ontwikkeling en breinfunksie. Die portuuroorsig,   “The Impact of Internet Pornography on Adolescents: A Review of the Research”,  is gepubliseer in die joernaal van Sexual Addiction & Compulsivity, wat reeds ‘n aanduiding van die trant van die bevindinge is. Relatief tot ander media word die internet bestempel as ‘n hoogs geseksualiseerde omgewing en navorsing toon ‘n merkwaardige toename in die getal jong mense wat- doelbewus of toevallig- seksueel eksplisiete materiaal teëkom.

En hier by ons?

In samewerking met Unicef Suid-Africa, die Unicef Office of Research, Innocenti in Italië en die London School of Economics is ‘n studie oor internetgebruik deur kinders en tieners in Suid-Africa van stapel gestuur. Meer as 900 kinders tussen die ouderdom van 9 en 17, in die drie provinsies en van verskilende ekonomiese agtergronde, is betrek. Om die resultate te versterk en die kinders se antwoorde te korreleer is ouers ook as respondente betrek. Luidens die verslag, wat in 2016 gepubliseer is, gebruik meer as 70% van die minderjarige respondente die internet op ‘n daaglikse of gereeelde basis. Een uit elke twee kinders het vrye toegang tot die kuberruim; sonder enige besprekinge. Die aanlyn toestelle wat deur die mense gebruik word, is slimfone, gevolg deur tablette en skootrekenaars.  Internetgebruik onder kinders neem toe na skoolure, wanneer hulle alleen tuis is. Meer as 30% van die ouers besoek glad nie die kuberrium nie en is ook nie vertroud met die inhoud waarmee hul kinders omgaan nie. Meer as 50% van die minderjarige respondente het die afgelope jaar seksuele materiaal besigting en byna een uit drie het al ‘n seksueel eksplisiete boodskap (sexting) ontvang. Een uit vyf (20%) van die repondente het ongevraagd ‘n eksplisiete advertensie van, of ‘n skakel na, ‘n pornografie-webtuiste ontvang. Byna 20% van die kinders het al per ongeluk ‘n boodskap aanvaar of oopgemaak wat naaktheid of seksuele omgang uitbeeld. Net meer as 16% word daagliks aan eksplisiete pornografie blootgestel (die aanvanklike blootstelling was per ongeluk; die repondente het daarna aktief na seksuele materiaal begin soek). Meer as 80% van die ouers was nie bekommerd dat hul kinders enige materiaal teëgekom het wat skadelik kon wees nie. Die opsommende portuuroorsig stel dat internettoeganklike toestelle kinders van alle ouderdomme onvoorwaardelik toelaat om seksueel eksplisiete inhoud te besigtig en te versprei. Navorsingsdata toon kinders en tieners se interaksie met seksueel eksplisiete materiaal neem wêreldwyd toe.  Omtrent 20% van alle sexting behels foto’s van minderjariges, meestal meisies, onder die ouderdom van 15 jaar.

Dis waar hulle leer

Op haar webtuiste, Culture Reframed, lys Dines ‘n paar statistieke wat jou twee keer laat kyk.  Pornografie-webtuistes ontvang meer besoekers per maand as Netflix, Amazon en Twitter saam. Net Pornhub het in 2015 al die pad bank toe gelag met 21.2 miljard besoeke. Na raming is 35% van alle materiaal wat afgelaai word pornografies. Kuberpornografie is die primêre bron van seksopvoeding weens ouers se onvermoë  (en onwilligheid) om gepaste leiding daaroor te bied. Gereelde blootstelling onder adolessente word gekoppel aan vroeë seksualisering,’n permissiewe houding teenoor seks en hoë risiko seksuele  gedrag, insluitende meervoudige seksmaats. Studies toon verder adolessente wat gereeld eksplisiete seksuele materiaal besigtig, begin vroeër met seksuele gedrag eksperimenteer – en het ook op ‘n vroeëre ouderdom seksuele omgang – as hul eweknieë wat eenmalig of glad nie blootgestel is nie.

Pornografie en erotika is nie ‘n nuwe verskynsel nie en tieners is natuurlik nuuskierig oor naaktheid, die teenoorgestelde geslag en seksualiteit. Dit, as sodanig, is nie noodwendig die probleem nie, sê Dr. Lize Wolfaardt, ‘n sielkundige in privaat praktyk met meer as 18 jaar ervaring. Lize het ‘n spesifieke belangstelling in seksualiteit en spesialiseer in traumaberading.

“Die mate waarin kinders en tieners toegang het tot maklik bekombare, gratis en ongesensorde pornografie via die internet is ‘n werklike rede tot kommer,” sê sy. “Kuberpornografie het geen filters nie. Dit is volop en die meeste daarvan is ontsettend grafies. Die perverse temas en scenario’s wat soms uitgebeeld word, is verbysterend.

Die voortdurende blootstelling aan pornografie het tot gevolg dat ‘n seun sy normale drang om seksueel met ‘n meisie te verkeer, nie nastreef nie en sodoende nie leer oor die kompleksiteite en ryk tekstuur van verhoudings nie.

Die noodsaaklike groei wat moet plaasvind om uiteindelik ‘n volwasse, wederkerige seksuele verhouding te kan vorm en handhaaf, vind dus nie plaas soos dit veronderstel is om te gebeur nie. Die probleem is dat tienerseuns pornografie as primêre voedingsbron vir masturbasie gebruik. Hulle knoop ‘n verhouding met ‘n toestel, ‘n selfoon,  aan.

Hulle het die opsie tot hul beskikking om elke keer verskillende, selfs meer opwindende, beelde te besigtig. Hulle hoef nie hulself kwesbaar te maak vir moontlike emosionele seer wat met verhoudings gepaardgaan, soos byvoorbeeld verwerping, nie. Hulle hoef nie deur die pyn te gaan om iemand beter te leer ken nie. Seksuele bevrediging is die enigste einddoel.”

Tog, se Lize, ervaar hierdie jongmense ‘n leemte wat hulle nie noodwendig kan eien nie. “Die rede hiervoor is dat pornografie liefde en intimiteit wegskeur van seks af. Die tiener word gelos met ‘n hunkering  na intimiteit, na werklike konneksie, maar besef dit nie noodwendig nie. Sy psige is gevul met abnormale, afwykende  gewaarwordinge oor seks – voordat hulle die geleencheid gehad het om normale, konsensuele, wedersyds bevredigende seksuele interaksie te verstaan.”

Dit is ook nie net seuns wat psigologies aan die pen ry nie, maan Lize. “Meisies dink hulle moet ‘oop’ wees om betrokke te raak by soortgelyke seksuele aktiwiteite as dié wat plaasvind in die pornografie waaraan hul seunsvriende blootgestel word. Dit is of hulle moet meeding met die vroue in die pornografiese beelde om begeerlik, populêr en sexy te wees, ongeag of hulle daarvan hou of nie. Hulle bied selfs aan om sekere seksuele gunsies te verrig, omdat dit voel of dit van hulle verwag word.”

Sy is veral bekommerd oor jonger kinders se blootstelling aan aanlyn pornografie. “Meestal kom jonger kinders onbepland op kuberpornografie af.” In een geval was ‘n sewejarige seuntjie besig om te soek na ‘n animasiefliek toe ‘n verskeidenheid eksplisiete venster­ advertensies die rekenaar se skerm oorneem, vertel sy.

“Wanneer jong kinders blootgestel word aan pornografie voordat hulle enige konsep van die seksuele het, is dit presies dieselfde as wanneer kinders fisiek seksueel gemolesteer word. Hul psige word  gemolesteer. Hulle word geseksualiseer lank voordat hulle op ‘n psigologiese vlak daarvoor gereed is. Die situasie word natuurlik geweldig vererger wanneer daar nie ‘n volwassene is wat vir die jong kind perspektief oor hierdie ‘ontdekking’ kan gee nie.

Die gevolge is legio en word bepaal deur die spesifieke persepsie wat die kind vorm. Jong kinders se blootstelling word gekoppel aan kliniese depressie, aggressie, antisosiale gedrag en vroeë seksualisering. Ten beste vorm dit ‘n verwronge  basis vir ‘n ontwikkelende seksualiteit wat hulle lewenslank sal bybly”.